Nelson Mandela Gebedsroete 2019

Here God, ons Vader,

U dienaar Nehemia het gerou, geween en gebid omdat

Jerusalem, die stad van sy vadere, verwoes was en die stad se mense groot ellende verduur het

(Nehemia 1: 4).

Here God, ons Vader,

Ons verskyn ook voor U om te rou, te ween en te bid aangesien ons stad,

die stad wat die gerespekteerde naam van Nelson Mandela dra, stukkend is en baie van haar mense erge swaarkry verduur.

Here God, ons Vader,

Ons verneem met groot hartseer dat ons metropool as die swakste presteerder in die land rondom die invordering en besteding van finansies beoordeel word.

Here God, ons Vader,

Ons verneem met ontsteltenis – te midde van hierdie ernstige droogte en waterskaarste – dat soveel water elke dag in ons metropool weens lekkende pype en beskadigde infrastruktuur vermors word as wat deur inwoners verbruik word.

Here God, ons Vader,

Ons erken met skaamte dat baie areas van ons metropool – woonbuurte, die stadskern en industriële gebiede – skandelik vuil is met opgehoopte, verrottende, nie-verwyderde afval, terwyl plastieksakke oral gestrooi en rondgewaai word.

Here God, ons Vader,

met afgryse sien en ruik ons die rou riool wat uitborrel onder die deksels van diensgate en gebreekte afvoerpype in baie dele van ons metropool.

Here God, ons Vader,

Ons bid dringend dat u manne en vroue sal oprig met die gesindheid van diensknegte – om politieke stabiliteit te bring sodat ons Metropool gelei, herbou en herstel sal word om al sy mense te dien.

Here, God, ons Vader,

Ons bid dat U toegewyde manne en vroue sal inspireer om ons Metropool met kreatiwiteit, visie en energie te ontwikkel, sodat almal wat graag wil werk ‘n betrekking sal bekom en trotse burgers van die Nelson Mandela Metropool sal kan wees.